Ocnus.Net

International
‘Waarom baklei as kinders dan na Engelse skole gaan?’
By Gert Coetzee, Beeld 26/6/09
Jun 28, 2009 - 7:56:02 AM

Bloemfontein. – Dit help niks om te baklei vir die behoud van Afrikaans as onderwystaal as Afrikaanse ouers in elk geval hul kinders toenemend na Engelse skole stuur nie.

So het dr. Michael le Cordeur van die Universiteit van Stellenbosch (US) gister op eeufeesvieringe van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns gesê.

Le Cordeur het in ’n lesing – “ ’n Geloofwaardige onderwysstelsel vir Suid-Afrika” – gesê dit help veel as Afrikaanse regte in die Grondwet verskans is, maar “geleerde Afrikaanse ouers” het vertroue in die taal verloor.

Ouers se neiging om hul kinders na Engelse skole te stuur, spruit uit hul beskouing dat dit aan hul kind ’n voorsprong sal gee vir verdere studie en om werk te kry.

“Mense is nie dom nie. Hulle hoor ons praat van die waardevolle rol van moedertaalonderwys, maar sien dat vooraanstaande Afrikaanse én bruin leiers hul kinders na Engelse skole stuur.

“Dit laat onwillekeurig die vraag ontstaan of hulle iets weet wat ons nie weet nie.”

Le Cordeur het gesê ouers speel deur hul deelname in beheerliggame ’n belangrike rol in die bevordering van moedertaalonderwys.

Hy het ook sy kommer uitgespreek oor die groot ongeletterdheidsyfer onder veral arm Afrikaanssprekendes.

“Tekens bestaan dat die situasie onder invloed van kreolisering met Engels en Kaaps versleg. Dis nice vir sekere celebrities om te praat van hoe cool Afrikaanse musiek is, maar dit werk vernietigend in op die gehalte van Afrikaans wat in ouerhuise en later ook in die klaskamer gepraat word.

Source: Ocnus.net 2009