Ocnus.Net
Suid-Afrika se watertoestand
By Pieter Pansegrouw, Die Vrye Afrikaan 12/2/08
Apr 17, 2008 - 9:47:43 AM
Min mense in Suid-Afrika ken die werklike syfers wat van
Suid-Afrika ’n water-arm land maak. Dit is eintlik interessante syfers, maar
ook syfers wat nie altyd ten volle deur almal in Suid-Afrika besef word nie.
Kom ons kyk ’n bietjie na hierdie syfers.
Eerstens is dit belangrik om na enige land se langtermyn
jaarlikse gemiddelde reënval- en verdampingsyfers te kyk om ’n idee te vorm of
die land ’n water-arm of ’n waterryk land is. In Suid-Afrika se geval is ons
langtermyn gemiddelde jaarlikse reënvalsyfer sowat 500 mm en ons langtermyn
gemiddelde jaarlikse verdampingsyfer sowat 2 000 mm. Ons gemiddelde jaarlikse
verdampingsyfer is dus vier maal groter as ons gemiddelde jaarlikse
reënvalsyfer, oor die lang termyn beskou. Dit beteken dus dat daar jaarliks oor
die hele oppervlakte van Suid-Afrika vier maal meer water potensieel sou
verdamp as wat daar jaarliks oor die hele land se oppervlakte val.
Geen wonder dus dat Suid-Afrika volgens internasionale
maatstawwe as ’n water-arm land geklassifiseer word nie. Suid-Afrika is naamlik
op 26 na die droogste land ter wêreld uit ’n totaal van 194 amptelike lande.
Die 26 lande wat droër as Suid-Afrika is, is hoofsaaklik in die
Sahara-woestyngordel en in die Midde-Ooste geleë. Die heel droogste lande ter
wêreld kom op die Arabiese skiereiland voor, wat basies uit woestyngebied
bestaan. Hulle is lande soos Saoedi-Arabië, Katar en Bahrein. Hulle word gevolg
deur die Sahara-woestynlande soos Algerië, Libië en Egipte in Afrika. Heelwat
ander Afrika-lande is ook baie droog, en dit is interessant om daarop te let
dat Afrika die droogste vasteland op aarde is. Dit maak Afrika in sy geheel dan
ook baie kwesbaar vir potensiële droogtes as gevolg van byvoorbeeld
aardverwarming.
Maar om na Suid-Afrika terug te keer, kan ’n mens jouself
afvra hoe dit moontlik is om in ’n land te oorleef waar die verdamping vier
keer meer as die reënval is. Gelukkig is die verdamping en reënval in Suid-Afrika
nie eweredig oor die land versprei nie en kom daar heelwat meer reën in die
oostelike gedeelte van die land as in die westelike gebiede voor. Die
verdamping is ook minder in die oostelike gedeelte van Suid-Afrika as in die
westelike deel. Die gevolg is dat daar darem surpluswater vir die land in die
oostelike gedeeltes van Suid-Afrika beskikbaar is. Dit het daartoe gelei dat
die meeste damme in Suid-Afrika in die oostelike gedeelte van die land gebou
is, en dat ons groot water-oordragskemas oorwegend water vanaf ’n oostelike na
’n westelike rigting in Suid-Afrika vervoer. Siviele ingenieurs moet beslis
krediet vir die bou van hierdie damme en oordragskemas kry, want daarsonder sou
’n provinsie soos Gauteng byvoorbeeld tans reeds te min water gehad het.
Suid-Afrika se totale gemiddelde jaarlikse afloop in sy
riviere is sowat 53 500 miljoen kubieke meter water. Hiervan is slegs sowat 33
000 miljoen kubieke meter werklik jaarliks benutbaar, want die res gaan verlore
omdat daar onder meer nie oral damme in ons riviere bestaan om die water op te
vang nie. Damme is dus belangrik vir ’n water-arm land soos Suid-Afrika. In die
verlede is daar soms spottenderwys na die grootskaalse bouery van damme in
Suid-Afrika verwys, maar dit het darem meegebring dat die totale volume van die
groot opgaardamme in ons land sowat 50 % van die gemiddelde jaarlikse afloop
van ons riviere per jaar uitmaak, dus sowat 26 750 miljoen kubieke meter in
totaal. Hierdie opgaarvolume help daadwerklik dat ons tans darem nog ons dors in
Suid-Afrika kan les, hoewel ons land se jaarlikse watergebruik al meer as 20
000 miljoen kubieke meter water per jaar beloop. Die verskil tussen die
hoeveelheid water wat jaarliks in Suid-Afrika beskikbaar is en die hoeveelheid
water wat jaarliks in die land gebruik word, word dus al hoe kleiner.
Op die oomblik word daar darem weer damme soos die
Bergrivierdam naby Franschhoek in die Wes-Kaap en die De Hoopdam in die
Steelpoortrivier noord van Roossenekal, naby die grens tussen Mpumalanga en
Limpopo, gebou. Hierdie damme sal die totale opgaarvermoë van ons damme ’n
bietjie laat toeneem. Daar is ook ’n interessante verband tussen water en
elektrisiteitsopwekking soos – onder meer – in die geval waar pomp-opgaarskemas
gebou word. In die Wes-Kaap bestaan daar nog die moontlikheid om ’n groot
pomp-opgaarskema in die middellope van die Bergrivier te bou, wat ook nog in
die toekoms tot ’n groterige dam of twee in Suid-Afrika kan lei. Dit kan die
hinderlike kragonderbrekings wat ons tans in Suid-Afrika ervaar, verminder of
selfs uitskakel, maar sal van Evkom se belangstelling in só ’n skema afhang.
Afgesien van oppervlak-waterbronne soos damme, is
Suid-Afrika maar swak bedeeld met grondwaterbronne. Hoewel grondwater vir baie
Suid-Afrikaners in veral die droë dele van die land van onskatbare waarde is,
het Suid-Afrika maar swak grondwaterbronne, en maak grondwater slegs ’n klein
persentasie van die totale beskikbare water in die land uit.
Die laaste oase of “laaste watergat” wat Suid-Afrika met
betrekking tot konvensionele waterbronne beskikbaar het, is watervraagbestuur.
Dit sal vereis dat ons almal sal moet leer om water spaarsamiger en
doeltreffender te gebruik. In die munisipale watergebruiksektor kan ons
byvoorbeeld ons storte, krane en toilette met waterbesparende toebehore
“retro-installeer.” In die toekoms sal ons byvoorbeeld op nasionale of
streeksvlak tipiese besluite moet neem soos of dit meer ekonomies sal wees om
vyf miljoen toilette in Gauteng te “retro-installeer” eerder as om ’n
addisionele fase tot die Lesotho-Hoogland Waterskema te probeer voeg, of om
water vanaf Kwazulu-Natal na Gauteng toe oor te pomp.
Ons sal ook moet leer om al hoe meer waterwys tuine in
ons stede en dorpe aan te lê. In die industriële watergebruiksektor sal ons ons
water talle kere moet hersirkuleer en ook moet hergebruik. In die
besproeiingsektor sal ons moet leer om doeltreffender te besproei, reënwater te
oes en afvalwater op groter skaal vir besproeiing aan te wend. Selfs in die
omgewingsektor sal ons strenger watervraagbestuur moet begin toepas, soos om
dorstige indringerplante uit te roei. In die kragsektor sal ons weer moet leer
om krag doeltreffender te gebruik, want die steenkoolkragsentrales in
Suid-Afrika gebruik gemiddeld ongeveer twee liter water om een eenheid (een kilowatt-uur)
elektriese krag te produseer. Dit beteken dat soveel as twee liter water in
Suid-Afrika benodig word om ’n enkele 100 Watt-gloeilampie vir slegs tien uur
lank te laat brand.
Ons sal ook beslis hernieubare energiebronne soos wind-,
son- en gety-energie moet begin aanwend in plaas daarvan om enorme hoeveelhede
steenkool en water te gebruik om elektriese krag in Suid-Afrika op te wek. En
so bestaan daar nog talle watervraagbestuursmetodes wat ons in al ons
watergebruiksektore in Suid-Afrika kan aanwend om water te bespaar en
doeltreffender te gebruik. Wat ons konvensionele waterbronne betref, is dít
beslis die “laaste watergat” wat ons in Suid-Afrika beskikbaar het.
Daar bestaan nog ’n aantal “onkonvensionele” waterbronne
vir Suid-Afrika wat interessant, maar tans nog te duur of nog nie heeltemal
ekonomies genoeg is nie. Hulle kan egter in die toekoms nog op groot skaal
realiseer sodra water werklik skaars en duur in Suid-Afrika begin raak. Hierdie
bronne sluit die ontsouting van brak- of seewater, die melk van reënwolke en
die aanwending van ysberge vanaf Antarktika in.
Daar kan in die toekoms moontlik ook na ’n groot
noord-suid waterdraer vanaf die Zambezi- of selfs die Zaïre-rivier na
Suid-Afrika gekyk word, want hierdie riviere het elkeen meer water as al
Suid-Afrika se riviere saam. Dit sal egter goeie samewerking tussen talle
Suider-Afrikaanse state vereis, want volgens internasionale waterregbeginsels
sal die state wat aan hierdie riviere grens, die eerste keuse kry as dit by die
toekenning van water vanuit hierdie riviere kom.
Intussen moet ons egter ernstig na ons bestaande
waterbronne en ons huidige watertoestand in Suid-Afrika kyk. Die gehalte van
die water in talle damme en riviere van Suid-Afrika is tans besig om te
versleg. In die verlede was die versouting, eutrofisering en besoedeling van
ons waterbronne altyd ’n bron van kommer, maar nou het die bestuur van ons
watersuiweringswerke deur ons plaaslike owerhede ook nog ’n bykomende bron van
kommer geword. ’n Gebrek aan kundigheid by owerhede op die gebied van
doeltreffende waterbronbestuur het oor die afgelope aantal jare in Suid-Afrika
na vore getree. Oor die afgelope aantal jaar het daar soms al uitbrake van
cholera in Suid-Afrika voorgekom, terwyl ’n plek soos Delmas gedurig in die nuus
is oor onaanvaarbare waterbesoedeling, wat onder plaaslike watergebruikers
reeds tot maagkoors gelei het. Hierby moet ook nog gevoeg word dat die uitruil
van inligting tussen eerstevlakse waterinligtingsverskaffers (“water
information providers”) en die derdevlakse plaaslike owerhede oor
wateraangeleenthede in Suid-Afrika nie altyd so doeltreffend is as wat ons dink
en algemeen aanvaar nie.
En dan is daar nog die kwessie van aardverwarming wat ons
watervoorraad in die toekoms nadelig mag raak. Voorspellings van groter
droogtes, hoër temperature, groter vloede en groter klimaatuiterstes sal beslis
’n invloed op ons watervoorraad en damme hê indien dit sou realiseer – en dit
lyk al hoe meer of dit werklik die geval is. Met groter vloede soos onlangs in
die Suid-Kaap ervaar is, sal ’n mens aan vloedopvangdamme in die benedelope van
ons riviere naby aan die kus moet begin dink om die surplusvloedwater te
probeer opvang voordat hierdie groot hoeveelhede vloedwater onbenut die see in
loop. Maar dit sal alleenlik ekonomies regverdigbaar wees as ’n mens die
vloedwaters dan daadwerklik nuttig in die kusgebiede sal kan aanwend sonder om
dit weer te ver binneland toe te moet pomp.
Om op te som, Suid-Afrika se waterbronne en ons algemene
watertoestand in die land laat beslis gevaarligte flikker. Ons is egter nog nie
by die werklike gevaarpunt waar ons almal in die land begin dors ly nie. Ons
moet egter die tyd tot ons beskikking so goed moontlik benut, want waterbronne
neem gewoonlik lank om te ontwikkel – hetsy hulle nou konvensionele of
onkonvensionele bronne is. ’n Mens praat normaalweg van tien tot twintig jaar
om waterbronne te beplan, daar te stel en in bedryf te stel.
Die enigste troos wat ons het, is dat ons verswakkende
varswatertoestand ’n wêreld-tendens is en dat ons nie alleen staan nie.
Internasionale organisasies waarsku al lank al dat die wêreld binne die
volgende twintig tot dertig jaar met ernstige waterprobleme te kampe sal hê.
Gedurende die afgelope dekade wys hierdie organisasies ook dikwels op aardverwarming
wat blykbaar besig is om die naderende wêreld-waterkrisis aansienlik te
versnel.
In noodsituasies kan die mens egter nogal innoverend
wees, en ons sal moet sien of iemand dalk in die volgende tien tot twintig jaar
met ’n uiters goedkoop proses vorendag sal kan kom wat een suurstof-atoom aan
twee waterstof-atome (op geweldige groot skaal) aan mekaar sal kan bind. Of
soos president John F Kennedy van die VSA gedurende die vroeë 1960’s gesê het,
sal die ontdekking van ’n proses om seewater op groot skaal baie goedkoop te
ontsout, ’n groter prestasie vir die mensdom wees as om ’n man op die maan te
plaas!
Source: Ocnus.net 2008